BOUWER BOSCH – PASAANGEËR

Share it with your friends Like

Thanks! Share it with your friends!

Close

Musiek en lirieke deur Bouwer Bosch
Mixing en mastering deur Peach van Pletzen

Lirieke:
Petrus Johannes Christiaan Bosch of Pierre soos sy my ma en sy vriende hom genoem het is gebore op 13de Julie 1948. In die middel van daai winter het een van die warmste mens op aarde vir die eerste keer kennis met die wêreld gemaak. Petrus Johannes Christiaan Bosch of pa soos ek hom genoem het was ’n sagte reus met min woorde maar baie vaardighede. Hy kon enige iets doen met sy hande. Enige iets wat stukkend was kon hy regmaak…..die Here het hom net reg gemaak, stukkend ook soos almal, maar net reg. In sy jonger dae was my pa ’n danser gewees. Vlugvoetig en versigtig het die Deuntjie altyd eerste gekom….. Soms was die wysie hartseer, ander kere weer opwindend, en hy sou kon getuig dat dit soms onmoontlik was om met ’n swaar hart te beweeg maar maak nie saak hoe stadig of vreemd daardjie liedjie geklink het nie op een of ander manier het hy dit altyd reg gekry om sy voete te wikkel. Van opgee het hy niks geweet nie Pierre Bosch was nie in die agtergrond nie, hy was die hele agtergrond.

My pa was ook ’n bouer wat nooit skaam was om ’n baksteen se hand te skud nie. Vuiler hande en ’n skoner hart sou jy nie sommer erens anders kon kry nie. Ek mis daai hande wat dra.

Ek lê baie aande wakker en dink aan die oomblik toe my pa uiteindelik Jesus se hand kon skud en dat Jesus sommer sy hand wegklap en hom inbring vir ’n drukkie. Jy kan baie van ’n man leer deur die manier hoe hy jou ’n druk gee. Ek mis sy drukkies. Ek giggel as ek dink dat daar ’n groot kans is dat my pa nou vir Jesus leer hoe om ’n huis te bou en dat Jesus my pa weer wys hoe om op water te dans soos wat ek en Petrus nooit kon doen nie. Ek moet sê jy het nogal ou Pierre Bosch se geduld nodig om op water te kan loop. Ek droom ook soms dat my pa by God se voete sit, net sit, en hoe hy dan in die ongemaklike stilte die moed bymekaar skraap om Hom te vra hoekom hy op so ’n seer manier sy mense hier op aarde moes groet Ek meen hy kon nog so baie hier gedoen het, wie gaan nou die kerk se stoele uitpak elke sondag oggend, wie gaan nou my kitaar kas se handvatsel regmaak as hy breek? Ek kry die Here soms jammer want ek weet daar is meer hartseer vrae as myne daar buite en mense soek antwoorde. Ek dink sekere vrae se antwoorde het soms niks met ons te doen nie al voel ons verdien dit…… My pa was ’n stil man. Hoe stiller die water hoe dieper grond en hoe dieper die grond hoe seerder die wond. Ja ons almal het maar ons wonde, al ons helde ook, selfs my pa. Op 27 November 2014 het ons almal ’n laaste keer saam nagmaal gehou. Ek moet sê die brood van die lewe smaak heelwat anders wanneer jy die dood moet vier.

Pierre Bosch het altyd gesê “God is goed” – selfs toe die chemo binne sy are langarm op die ritme van sy pas-aangeer sou hy aanhou sê god is goed. Ek kon dit nie so maklik sê nie en as ek kon dink ek nie ek sou nie. Ek sal maar altyd met die gedagte stoei van ’n man wat alles of enigeiets kon regmaak behalwe homself. ek sê jou nou, kanker is maar ’n bliksem. Maar so tussen al die trane en my hartseer glimlag ek wel breed want hoe mooi, ironies en onregverdig is die lewe nie dat ’n ongeneeslike siekte tog wel ’n stuk genesing tussen ons gebring het. Ek en die Here het nog baie goed om oor te baklei maar oor hierdie saak het ek vir eers vrede gevind en ek weet dat die man wie ek vandag is is as gevolg van Petrus Johannes Christiaan Bosch of pa soos ek hom genoem het.

css.php